Resensie: Kraak

AfrRes4

Resensie: Kraak

Ek is baie opgewonde om my eerste Afrikaanse boekresensie te skryf. Ek het Kraak verniet ontvang van die uitgewer af vir ‘n eerlike resensie.

2623277 lTitel: Kraak

Skrywer: Rouxnette Meiring

Gradering: 4 sterre

Bladsye: 208

Publikasiedatum: 20 Mei 2018

Goodreads beskrywing: In 2065 rig geo-ingenieurs ‘n virtuele koepel oor Kaapstad op en dit word Hui !Gaeb, ‘n baken van vooruitgang aan die suidpunt van Chinafrika. Maar in 2315 begin die krake wys; krake in die koepel, maar ook sypel daar in die ultragereguleerde samelewing van Hui !Gaeb invloede van die buitewêreld in. ‘n Groep jongmense besluit om die koepel te verlaat en ‘n reis na die noorde aan te pak op soek na antwoorde.

Kara en Kaleb is albei kinderhuiskinders wie se ouers in ‘n droomhospitaal lê, onverklaarbaar aan die slaap, maar lewend. Sophia, hoof van die sentrum van spiritualiteit, oortuig Kara en ‘n groep jongmense om die koepel te verlaat en ‘n reis na die noorde aan te pak, want daar, glo sy, sal hulle die sleutel ontdek tot hulle ouers se ontwaking en ‘n eie spirituele ontwaking beleef.

Dankie aan NB Uitgewers vir die gratis kopie.

Resensie

Kraak ResensieEerste gedagtes

Kraak het my stomgeslaan. Dit is ‘n fantastiese boek in ‘n genre wat jy nie sommer in Afrikaans sal kry nie. Daar is ‘n gaping in Afrikaans vir goeie tienerfiksie. Daar is ook ‘n gaping in die mark vir tienerboeke wat in Afrika afspeel. Dit was wonderlik om ‘n avontuur te lees wat in plekke afspeel waar ek al was. Die bekende liggings het my in die boek ingetrek en het die gebeure meer werklik laat voel.

Die wêreld wat Meiring geskep het is vreemd en gevaarlik. Die gediertes wat in hierdie wêreld bly is uniek en anders as enige iets wat jy gewoonlik in dystopiese fiksie kry. Dit is wonderlik vreemd en gooi jou so bietjie uit jou comfort zone uit. Meiring het dit reggekry om ‘n outentieke wêreld te skep wat by jou sal bly lank nadat jy die boek klaar gelees het.

Karakters

Die karakters was nog ‘n hoogte punt van die boek. Elkeen het ‘n unieke persoonlikheid gehad en ek kon die meeste met Kara identifiseer. Nie een van ons hou baie van draf nie. Ek gee hierdie boek ook prys vir diversiteit, maar daar kort nog. Daar word slegs gepraat van ‘n gay karakter, wat alreeds ‘n stap vorentoe is vir ‘n Afrikaanse boek, maar ek sou meer wou sien. Ek sou ook meer tyd saam met Mohlomi wou spandeer, en ek het baie van die vriendskap tussen hom en Kara gehou.

Opsomming

Die rede hoekom hierdie boek net 4 sterre gekry het was die vreemde tyd-spronge. Kara-hulle se reis het nie altyd vir my so goed gevloei nie, en die hoofstukke vanuit Shaka se perspektief wat hier en daar ingegooi is het die pas gebreek. Ek het baie van Shaka se hoofstukke gehou, maar dit het nie vir my sin gemaak in hierdie narratief nie. Dit sou beter gewerk het as Shaka meer hoofstukke in die tweede boek kon kry, eerder as ‘n paar random hoofstukke in hierdie boek.

Ek het hierdie boek baie geniet en ek is opgewonde vir die tweede boek, Snak, wat in Oktober 2018 uitkom.

 

kraak

 

Share

3 thoughts on “Resensie: Kraak

Comments are closed.

error

Enjoying my blog? Follow me!