Resensie: Emma en die Middernagman
Titel: Emma en die Middernagman
Skrywer: Marianna Brandt
Gradering: 3 Sterre
Bladsye: 232
Publikasiedatum: 20 September 2018
Beskrywing: Juffrou Beaulah Bonthuys, Kosterkloof se nuwe skoolhoof, lyk aanvanklik baie gaaf. Emma hou veral van die hoof se oulike ma-kat en haar kleintjies wat ook in die koshuis kom woon. Maar wie is die vreemde figuur in die swart mantel wat snags om middernag in die tuin verskyn en die katjies se koppe vryf? Daar is ook twee nuwe meisies in Emma se klas. Hulle is beeldskoon en boonop baie slim, en die seuns draai natuurlik om hulle.
Gou begin dit lyk of die nuwelinge daarop uit is om moeilikheid te maak vir Emma en haar vriende. Is dit moontlik dat die eienaardige gebeure op Kosterkloof steeds iets te doen het met die vreemde wesens wat die skool se kinders al die afgelope tyd teiken? Hierdie lekker grillerige speurstorie vir jong lesers is die derde boek in die gewilde Emma-reeks.
Dankie aan NB Uitgewers vir die gratis kopie.
Eerste Gedagtes
Hierdie is die derde boek in die Emma-reeks, waarvan ek ongelukkig nie die eerste twee gelees het nie. Van wat ek kon agter kom is die eerste twee boeke redelik dieselfde as hierdie een. Die skoolhoof werk saam met een of ander vreemde wese en eienaardige dinge gebeur die hele tyd op Kosterkloof. Dit is eintlik naief van Emma om te dink dat die nuwe skoolhoof nie vreemd is nie, as jy kyk na haar vorige ervaring.
Die storielyn was baie herhalend, dit het gevoel asof Emma die heeltyd in sirkels hardloop. Dit was nie veel van ‘n speurstorie nie, Emma was baie keer net op die regte plek op die regte tyd en het eintlik min vir haarself uitgewerk.
Die “vreemde wesens”, wat weereens aliens was, was rerig net weird. Dis die beste woord wat ek het om hierdie storie te beskryf: weird.
Karakters
Ek kan nie regtig kommentaar lewer op die karakter groei van Emma nie, omdat ek nie die eerste twee boeke gelees het nie, maar daar was baie min karakter groei in hierdie boek. Jy sou dink dat Emma iets moes geleer het uit haar vorige ervarings, maar dit het nie so voorgekom nie. Die res van die karakters was ook nie baie betrokke nie en was bietjie sonder persoonlikheid.
Opsomming
Brandt se skryfstyl is baie goed en die boek was maklik om te lees. Jonger lesers sal verseker die boek geniet, en ek dink die eerste twee boeke sal ook verseker die moeite werd wees om te lees, dan kry jy tog die groter prentjie. Hierdie boek was nie heeltemal vir my nie, maar gee dit tog ‘n kans. Dalk hou jy daarvan.
I appreciate your honest review – thanx for the info
Can’t say that I understand the language. But good post,